Sunday Times Books LIVE Community Sign up

Login to Sunday Times Books LIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Sunday Times Books LIVE

Maya Fowler

@ Sunday Times Books LIVE

Many embodiments of desire: Riette Rust creates erotic art in Afrikaans

A body remembered, a body remembers, but also, a body withheld: These are the interpretations that dwell in the title ‘n Lyf Onthou, a brand-new work of erotic fiction in Afrikaans.

Deernis – dít is die snaar wat Riette Rust in haar kortverhaalbundel ’n Lyf onthou (uitgegee deur Protea) by my roer. Ja, sy roer wel ander snare ook: Dis nie verniet dat Kerneels Breytenbach in ’n onlangse onderhoud met Louise Viljoen gesê het Riette ken van seks skryf nie. Met die erotiek as kunsvorm is sy bedrewe, en dit is nie iets wat van alle skrywers gesê kan word nie. Veral nie, durf mens dit sê, iets wat van alle Afrikaanse skrywers gesê kan word nie. Die meeste van ons (guilty as charged!) is mos maar konserwatief grootgemaak. Het so by die dertien jaar rond ’n voosgeleesde eksemplaar van Lady Chatterley’s Lover in die hande gekry en suutjies langs die swembadfilter gaan lees, of dalk ’n bietjie Brink tydens daai lang ure waar die grootmense hul oë rol en sê “Dié kind is darem baaaie lief vir bad, hoor …” Maar die feit bly staan, ons kom uit ’n konserwatiewe tradisie, en ons mark is eweneens dikwels konserwatief. Om ’n boek erotiese skryfkuns saam te stel, is ’n dapper stap, en om dit kunstig en met goeie smaak, soos Rust, te doen, ’n prestasie.

Erotiek, ja, maar diegene wat verwag dat mense mekaar op elke bladsy gaan bevlieg, bespring of bebek, gaan (afhangende van hul vertrekpunt!) óf verras óf teleurgesteld wees. Hierdie bundel is keurig geskryf en met groot sorg saamgestel, en nie elke verhaal wentel om seks nie. En ook nie elke verhaal wat verwys na seksualiteit, lei na fisiese kontak nie. Die keur verhale is holisties, en daarmee bedoel ek dat daar iets is wat elke aspek van die lewe – veral vrouens se lewens – weerspieël. Ons het te doen met verlange, hartseer en blydskap (omdat ons emosionele wesens is) verrassings, herinneringe, verviestheid (omdat ons denkende wesens is) en ja, begeerte en die volbringing daarvan al dan nie (omdat ons seksuele wesens is). Dis hier dat die titel juis só slim is, omdat dit gaan oor al hierdie embodiments van menswees: ’n Lyf onthou, m.a.w. die lyf vergeet nie; hier het ons ’n spesifieke lyf wat iemand onthou, maar, net so belangrik, hier het ons ’n lyf wat juis nié oorgegee word nie. A body remembers, a body remembered, en a body withheld, dus.

Rust se karakters is kompleks; sy wys jou waar hulle vandaan kom. Van Carien, wat wulpse goed aanvang in “Vanielje”, leer mens meer in “Eer jou vader”. Die Mia van “Yesterday, today and tomorrow” neem ’n ander tomorrow aan in “Queen of the rose garden”. Maar vir my bly “God se wil” (met karakters wat nie elders in die bundel verskyn nie) een van die sterkste verhale: ’n bittersoet storie waarin ’n dominee en sy vrou ná vele pogings ’n verstandelik gestremde kind in die wêreld bring. (En vir die wat gereed is om te skrik: erotise gebeurtenisse is nié in hierdie verhaal ter sprake nie.) In verhale soos “Alles vir ’n storie”, “As good as it’s going to get” en “Spoor” weer, is daar vir my iets van Fay Weldon, maar met minder woede en meer deernis, meer gelatenheid, attitude, chutzpah.

Hierdie is ’n boek vir mense wat in denke geprikkel wil word; ’n boek vir dié wat hulle wil inleef in ander se smagtinge, hul hartseer, hul hoop en hul drome. Diegene wat op soek is na cheap thrills moet maar eerder op die boonste tydskrifrak by die Seven Eleven gaan kyk, want hier gaan meer as jou kliere oefening kry.

 

Please register or log in to comment